Wat ‘n wonderlike boek! Dit gaan my lewe vir altyd verander. Ek kan jou nie genoeg bedank vir die hoofstuk En garde nie wat so bevrydend vir vroue is. Uiteindelik kan ons (vroue) uitsien na ‘n meer waardige funksie in die kerk.
Jy sal skaars weet hoe bly jy gemaak het met die pragtige boek wat jy verlede Sondag vir my gegee het. Dis nou weer Sondag 7 dae later en ek het vanoggend 4.45 die boek voltooi. Vr my is dit ‘n merkwaardige boek en ‘n heerlike leeservaring.
Met die intrapslag is ek geïnspireer. By die lees van jou boek word ek bewus dat dit voortspruit uit deurleefde navorsing en (jarelange?) nadenke en saamleef met dié stof. Ben, jou beheersing van soveel uiteenlopende genre’s (mitologie, bybelteks, teologie, kuns, rolprent, strokiesprent, sprokies, ens, ens) skep so ‘n wye verwysinsveld dat dit tegelyk boei en bekoor. Daar is so baie bevrydende gedagtes wat mens losmaak van wat ’n vriend van my sou noem “oupa se wet” – wat dalk ’n ander naam is vir fundamentalisme in al sy vorme.
En tegelykertyd hef jy nooit die Godverlange in ons harte op nie. Die gesprek, voorstelle en perspektiewe in die laaste hoofstuk (23) vind groot aanklank by my. Dit is weerloos eerlik, eg, raak en betekenisvol. Ek stem so saam met jou as jy die leser wil help om weg te beweeg (breek!) van letterlike lees. So jammer dat soveel mense nog steeds elke belydenis / geloofservaring lees as geskiedenis, en elke gedig (lied, poëtiese uiting) as berig (soos Gen 1).
Intussen: 1000 dankies vir die kosbare boek!






